|
Quatro Superieure Simbra Genetika
is die uitvloeisel van die visie en doelwitte van vier Simbra
telers van die volgende kuddes: Happy Venture, Mica, SSS en
Vleisberg. Hierdie 4 telers het na hul mekaar beter leer ken
het, ontdek dat hulle soveel in gemeen het, dat hulle deur hul
kragte saam te snoer soveel meer doeltreffend, doelgerig en
effektief te werk kan gaan ten einde hierdie doelwitte te
verwesenlik. Gevolglik is daar in 2007 besluit om kragte op ‘n
formele wyse saam te span en is die Quatro groep met die
hoofdoel die daarstelling van Superieure Simbra Genetika gestig.
Een van die vele
uitdagings van stoetteling is die beskikbaarheid en koste
verbonde aan top genetika. Deur middel van samewerking tussen
die lede van Quatro kon kapitaal meer effektief aangewend word,
en is daar ook onderling ooreengekom om genetika aan mekaar
beskikbaar te stel tot voordeel van mekaar en die gemeenskaplike
doelwit van die Quatro lede.
Dit het
meegebring dat diere gesamentlik gekoop is ten einde die
genepoel te verbreed asook om ‘n embrio program van stapel te
stuur. Daar is ook waar dit nodig geag was van ingevoerde semen
asook van die beste plaaslike semen gebruik gemaak in beide die
teling in die onderskeie kuddes, asook in die embrioprogram. Die
voorlopige resultate van die embriokalwers wat aangekom het lyk
baie belowend, en hoewel dit ‘n baie duur oefening was, wil dit
voorkom asof daar beslis diere van superieure gehalte geteel is,
en gevolglik voel ons dat die oefening geslaagd was. Die
onderlinge uitruil van bulle en semen onder die lede van Quatro
blyk ook ‘n suksesverhaal te wees.
Behalwe vir die
genetiese vordering wat gemaak is in die onderskeie kuddes, het
die samewerking tussen die Quatro lede meegebring dat daar
jaarliks in Augustus ‘n veiling te Otterskuilen, tussen
Standerton en Heidelberg (Happy Venture) aangebied word. Die
gevoel van die vier telers was dat ‘n jaarlikse
produksieveiling, waar die aanbied van top gehalte diere, druk
plaas op die genetiese sterkte van so ‘n individuele kudde, die
logiese oplossing daarin lê om gesamentlik die Quatro veiling
aan te bied. Hierdeur word die beskikbaarstelling ‘n groot
aantal diere van top gehalte verdeel tussen al die lede, wat
meebring dat daar nie onredelike druk geplaas word op hul
afsonderlike kuddes nie. Dit is net soveel makliker om
byvoorbeeld 10 top diere uit elk van 4 kuddes aan te bied as die
40 top diere uit een kudde. Die Quatro veiling het ten doel om
genetika van hoogstaande gehalte aan die bedryf beskikbaar te
stel en sodoende ‘n bydrae te lewer tot die verbetering en
uitbou van die Simbra ras in geheel. |