Home Page
 
 
_______________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
 
Meer Oor SSS Simbra Supertalers Simbra Galery Kontak Inligting
   

 

 

Daar is nuwe lewe en plesier in ons kleiner Simbra kudde. Die feit dat die beskikbaarheid van weiding nie ‘n gedurige ononderbroke bron van kommer is nie, het beslis ‘n algehele positiewe invloed op die toestand en omstandighede rondom die stoetery gehad.

Lucky ( MW 02258C ) se eerste verse word eersdaags gespeen en daar is ook ‘n paar bulletjies wat groot belofte toon.

Met mnr Currin se onlangse keuringsbesoek is daar ‘n bietjie meer tyd aan analise van die kudde en kuddetendense self en minder tyd aan keuring persé bestee. ( Ek wil dit ten sterkste aanbeveel as standardpraktyk tydens keuringsbesoeke )  Die analise het getoon dat alle tendense sover dit BLUB-waardes betref, baie mooi op ‘n gebalanseerde en korrekte teelbeleid dui.  Die melksyfer is aan die onderpunt van die “ gemiddeldes” kolom, maar onder die ekstensiewe toestande waaronder die kudde bestuur word, hoort dit so. Koeie met te veel melk se reproduksie lei noodwendig daaronder .

Wat ons ander kudde aanbetref, nl die SUPERTALERS , is daar baie positiewe nuus om te rapporteer. Soos u weet , woed die stryd reeds sedert 2002 om die ras as ontwikkelende ras geregistreer te kry. Na baie briefwisseling, persoonlike gesprekke , vergaderings tussen Genootskap en dept. Landbou en telefoongeprekke , het die SIM- SIM Genootskap in 2008 , by monde van mnr Johan Potgieter , my meegedeel dat daar ‘n skaakmat –posisie bereik is en dat daar weinig vordering in die toekoms in die vooruitsig gestel word.  Die enkele hoofoorsaak is die meningsverskil tussen die Genootskap en mnr Mamabola ( Registrateur van Veeverbetering) oor die oorsprong en genetiese geskiedenis van die vaderras van die Supertaler, nl die Pustertaler. In kort kom dit daarop neer dat mnr Mamabola se navorsing toon dat die Pustertaler ‘n ekotipe van die Pinzgauer is en dat die Genootskap dit verwerp.

Tegelykertyd was daar ook ‘n projek by ZZ2 op Mooketsi aan die gang waartydens met Pinzgauerbulle en Ngunikoeie ‘n soortgelyke ras as die Supertaler geteel is. Dws twee vaderrasse wat eintlik nie geneties verskil nie, is saam met dieselfde moederras, nl. Nguni gebruik, om komposietrasse te teel.  Die Registrateur het slegs sy weg oopgesien om aandag te gee aan die registrasie van een ras uit hierdie samestelling en dit het dit op ons weg geplaas om self met die Pinzgauer Genootskap die detail uit te klaar.

Die Supertalertelers wat in gesprek met die Pinsgauergenootskap getree het, is met ope arms deur mnr Paul Bester , Rasdirekteur van die Pinzgauergenootskap , verwelkom en geakkomodeer.  Eintlik was die proses heel een voudig. Die moederras van “ons” ras en ZZ2 s’n was dieselfde , nl die Nguni en die vaderras- so sê die navorsing- was eko-tipes, nl die Pinzgauer en Pustertaler.  Die enigste uitstaande kwessie was ‘n NAAM. Die SUPERTALER was afgelei van Pustertaler . Daar was altyd verwarring onder oningeligte telers, nl die “ taler” van Supertaler is altyd verwar met Simmentaler, veral omdat die hele teling onder die sambreel van die Simmentalergenootskap geskied het. PINZYL ( mnr Bester se ras ) was ‘n samestelling van die Pinzgauer en mnr Bertie van Zyl se van. Wyle mnr Bertie van Zyl, vader van ZZ2, was vir baie jare byna die enigste teler van die Pinzgauer in die land en het ZZ2 baie sterk gevoel dat sy nagedagtenis in die naam behoue moes bly. Die Supertalertelers het daartoe ingestem en derhalwe verdwyn die naam , SUPERTALER, en word alle Supertalervee herdoop na Pinzyls. Mnr Paul Bester het aangedui dat hulle verkies om die naam so te skryf : PINZ²YL.
In wese bly die Supertaler dieselfde en Pustertalersemen kan steeds gebruik word . Die naam verander net na Pinzyl en Pinzgauersemen en –bulle word in die proses toegevoeg.  Die hele proses het egter ook groot voordeel ingehou. Eerstens word ons deel van die beeskudde en –rasse wat behoort aan sekerlik een van die leidende boerderygroepe in die Republiek. Tweedens word die genepoel van die vaderras vergroot met ‘n groep puik Pinzgauerbulle wat vir Suid- Afrikaanse omstandighede geteel en geselekteer is. Die klein beskikbare Pustertalergenepoel was juis as ‘n problem vir die toekoms geïdentifiseer. Derdens word Pustertalergene ( Wat oorwegend meer swartbont is ), toegevoeg tot die genepoel en verhoog dus die kleurverskeidenheid in die PINZ²YLras en kan ons dus veral In die Afrikakultuur waarin ons ons bevind, groot markvoordeel put.

Ons hoop dat die finale registrasie van die PINZ²YL as ontwikkelende ras in die volgende staatskoerant sal verskyn en sal ons gewaardeerde voornemende telers op hierdie webblad dienooreenkomstig op hoogte hou.

Boer met entoesiasme en teel u beeste met die passie wat hierdie voorreg verdien!!

Groete
SSS Simbra en PINZ²YLs.

 

____________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________

                

Quatro Simbra  |  2007 - 2010  |  Webblad Vrywaring
Webblad ontwerp & onderhou deur
123 Internet