Home Page
 
 
_______________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
 
Meer Oor Mica Simbra Simbra Galery Kontak Inligting  
   

 

 

In 1984 het Mike en Erica Wiechmann begin met ‘n kommersiële beesboerdery wat hoofsaaklik bestaan het uit beeste van verskillende rasse. Ten spyte van omgewingsuiterstes soos strawwe droogtetoestande en bitterkoue winters was daar deurgaans gepoog om die gehalte van beeste wat gelewer word te verbeter, en om op die mees ekonomies doeltreffende wyse beesvleis te produseer in ekstensiewe toestande.  Met die volgehoue strewe na die verbetering van gehalte en verbetering in terme van ekonomiese eienskappe van die kommersiële boerdery, is daar in 1991 besluit om die Mica stoetery te begin.

 

          

          

          

Teen hierdie tyd was dit reeds duidelik dat die Simmentaler-Brahman kruising die beste gevaar het, en werklik perfek aangepas was op Otjihangwe, veral met inagneming van produksie en reproduksie eienskappe. Dit was dus ‘n voor die hand liggende keuse om op die Simbra ras te besluit met die oog op stoetteling.

Die basis van die kudde is opgebou uit diere van Dr. Arthur Bagot-Smith. Vandag is daar ongeveer 250 stoetkoeie in die kudde wat as gevolg van die uiteenlopende tipes in die ras, vir ons genoeg variasie bied om funksionele diere doeltreffend te kan teel.

Die teelbeleid en ander kwalitatiewe vereistes is vir die stoet sowel as die kommersiële beeste dieselfde. As gevolg van die ekstensiewe toestande waarin geboer word, moet verse wat vir  teling in aanmerking kom teen 24 maande die gewenste teikengewig hê, en word dan by die bul gesit. Verse wat nie aan die kriteria voldoen nie word uitgeskot, en daar word ‘n beleid gehandhaaf waarvolgens beeste wat nie goed genoeg is vir ons om mee te teel nie, ook nie goed genoeg sal wees vir ander nie, en die diere word gevolglik geslag. Vroulike diere in produksie moet elke jaar ’n kalf produseer.

Diere wat bemark word as teeldiere word uiters streng gekeur volgens ‘n baie streng seleksiestelsel, waar daar gelet word op onder andere die volgende eienskappe:

  • Vrugbaarheid

  • Loopvermoë

  • Konstitusie handhawing

  • ‘n Strukturele standaard wat die Simbra Genootskap se standaard van voortreflikheid  oortref.

Bo en behalwe visuele beoordeling, word daar ook van moderne tegnieke soos Breedplan gebruik gemaak, en word van die diere ook geskandeer om die oogspier oppervlakte te bepaal.

Een van die hoof doelwitte is om diere te teel wat ekonomies winsgewind van die veld af  bemark kan word. Sommige gekeurde bulletjies word na speen aan ‘n groeitoets onderwerp, en dan na Orumbungu geneem,  waar hulle vir tot 2 na 2½ jaar in die bergagtige toestande moet oorleef. Daar leer hulle in beproewende omstandighede om tussen klippe en luiperds te oorleef, waarna hulle weer gekeur word om te bepaal wat is bemarkbaar as teelbulle en wat word afgekeur vir teeldoeleiendes. Slegs uitstaande diere kry die MW brandmerk van kwaliteit wat daarop dui dat hulle as teeldiere bemark kan word.

 
Sedert 1998 neem MICA deel aan skoue, hoofsaaklik vir 2 redes, naamlik om ons beeste te meet aan die van ander telers, en om die tipe en gehalte van ons beeste bekend te stel aan ander telers.
 

____________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________

                

Quatro Simbra  |  2007 - 2010  |  Webblad Vrywaring
Webblad ontwerp & onderhou deur
123 Internet